万博体育官网

图片
Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die Lewe: Marieta van Wyk
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 23/05/2024

Marieta van Wyk vervul 'n sleutelrol by Stellenbosch Universiteit (U) se Vervoerdienste waar sy al vir byna 30 jaar werk. Sy is bekend as 'n raakvatter wat sorg dat die wiele altyd aan die rol bly by die vervoerafdeling. Van Wyk sien toe dat al SU se voertuie in 'n lopende toestand bly, betyds gediens word, herstel word, lisensies vervang word en skoon is voor verhuring. Aangesien ons aan die begin van Mei Werkersdag gevier het, dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle belangrike bydraes tot die Universiteit.

Wat behels jou rol by die US?

My rol by Vervoerdienste behels dat ek sorg dat 81 voertuie daagliks optimaal aan studente en personeel vir hulle amptelike aktiwiteite verhuur word.

Afgesien daarvan dat ek moet toesien dat al die voertuie in 'n goeie, lopende toestand is met alles wat daarmee saam gaan, sorg ek ook dat 162 sleutels ná verhuring terugkeer en veilig bewaar word. Ek vervang twee-jaarliks die vloot se 162 petrolkaarte, en is verantwoordelik vir die werking van 162 identiteitskaarte vir toegangsbeheer by die voertuigpark se hekke. Ek gee 12 voertuigbestuurders geleentheid om hulle inkomste aan te vul met kampusversoeke. Verder hou ek myself besig met jaarlikse inventarisrekords, prestasiebeoordeling en ons webblad en al die streke en stories wat uitkom as voertuie laat teruggebring word of gestamp word.  

Ek skakel daagliks met SU-personeel en -studente, asook met kli?nte vir tenders en ek behartig kommunikasie met maatskappye soos motorhandelaars, paneelkloppers en die SAPD en Tracker in geval van 'n kaping of diefstal.

Ek was van die begin af betrokke by die ontwerp van ons gebruikersvriendelike besprekingsprogram. Ek het gehelp om die handleiding te skryf en ek sorg vir deurlopende funksionering daarvan.

Hoe lyk jou tipiese werksdag?

Soos 'n seekat onder druk begin ek my dag om 07:30 met toekennings van voertuigbesprekings wat reeds ontvang is. Dan is daar onvermydelik 'n oproep van mense wat hoop 'n voertuig is beskikbaar – ten spyte van wat die stelsel sê – en dat Tannie Poel weer eens 'n plan kan  maak!

Daarna handel ek gou 'n paar e-posse en kwotasies af, terwyl mense tussendeur opdaag om sleutels af te haal. Partykeer verras die drukker my ook nog om vir 'n middag nie te werk nie. Maar ek het altyd blanko-ritkaarte byderhand. So, dan ek val terug op die handstelsel en skryf uit. Terselfdertyd hoop ek in my agterkop die finansi?le stelsel maak nie 'n bokspring wat sal veroorsaak dat ons besprekingsprogram haaks is nie. Teetyd loop ek egter nie mis nie, want my koppie lafenis hou my aan die gang. Intussen stroom ons grootste gebruikers, die studente in Maatskaplike Werk, in om hulle voertuie te kom afhaal vir die dag en gee ek eers weer 22 sleutels uit. Tussendeur probeer ek nou al vir drie dae lank om die vergoeding klaar te maak. Maar dan moet ek eers weer uithol, want iemand het die uitgangshek skoon van sy spoor afgery! Ek diep gou 'n motorongelukverslag op en dan nog 'n paar e-posse beantwoord terwyl die telefoon onophoudelik lui. Vinnig 'n vergadering met kollegas bywoon en 12 bestuurders re?l vir die volgende twee dae. Voordat ek my o? kan uitvee, slaan die klok 16:00, wat beteken dit is huistoegaantyd vir my.  

Hoe het jou opleiding en vorige ondervinding jou op hierdie werk voorberei?

My oorlede pa het altyd gevra: “Hoekom wil jy aankoopbestuur gaan studeer, my kind? 'n Vrou weet mos hoe om inkopies te doen!" Ek het maar net gelag, maar my aankoopbestuur-diploma het my baie gehelp om besluite onder druk beter te formuleer en op te weeg. My besparende persoonlikheid was ook nog altyd tot voordeel van my werkgewer. My eerste werk by die Universiteit was by Batebeheer onder mnr Moelich. Ek het daar lesse geleer wat ek tot vandag toe met die wysheid van die grysheid onthou. Daarna was ek een van die eerste drie vroue wat die IT-hulplyn begin het, asook die rustige, bedagsame Johan Kistner se sekretaresse. Ek was ook later Ivaan Bester se sekretaresse by Risikobestuur. Nader aan 'n soldaat kon ek nie kom nie, maar het die adrenalien-rush geniet. Elke dag was opwindend. Ek werk sedert 1996 by die voertuigpoel en was nog nie een dag spyt nie, want meer opwinding in 'n dag kan 'n mens nie vra nie. Hier kon ek weer eens my studies prakties toepas met logistiek as my hooffokus. Die grootste uitdaging aan die begin was om nie 'n oordeelsfout te begaan met geld op vier wiele wat nie myne is nie. 'n Mens word daagliks aan so baie dinge blootgestel en as ek vandag terugkyk, is ek dankbaar vir al die lewenswysheid wat ek opgedoen het – ek het geleer om mense se liggaamstaal uitstekend te lees!

Wat is vir jou die lekkerste van jou rol en werk by die US?

Die uitdagings wat ek onder druk moet hanteer en die feit dat nie een dag dieselfde verloop as die vorige een nie, want ek raak gou verveeld. Een oomblik is jy 'n fortuinsoeker op soek na 'n motor wat daar nie is nie, maar kampus graag wil bespreek. Dan is jy 'n speurder wat agter die kap van die byl moet kom oor die storie wat die student jou vertel oor die toestand waarin hy 'n motor teruggebring het. Dan help jy 'n kollega met 'n stelselprobleem, voordat jy 'n kwotasie uitwerk sodat jy 'n voertuig goedkoper kan aanbied as waarvoor daar begroot is. Dan troos jy iemand wat in 'n ongeluk betrokke was. Later verbaas jy jouself as jy sien hoeveel geduld jy eintlik het wanneer daar 'n ongelukkige kli?nt voor jou staan omdat hy 'n bakkie met 'n kappie bespreek het, maar die sekretaresse een sonder 'n kappie bespreek het. Dan is 'n voertuig laat en die volgende gebruiker moet 'n vlug haal of die wiel is pap. 

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek is nie 'n gebore Kapenaar nie maar is van Brits in Noord-Wes af ingevoer en skree steeds vir die Blou Bulle. As student het ons naweke in Witbank gaan valskerms pak om R85 te kon bekostig om valskerm te spring. Vir sakgeld het ek as student ook in 'n boetiek in Wonderpark gewerk en rokke ontwerp, dit daar gemaak en die geld met die eienaar van die boetiek gedeel net sodat ons Saterdagaande kon gaan langarm dans. Ek is 'n groot diereliefhebber wat een keer in Desember langs die Oranjerivier gaan kamp het en met 'n vier weke oue rifrug/windhond teruggery het huis toe omdat die bokwagter nie al die honde kon kosgee nie. 

FOTO: Stefan Els